Goeie môre, liewe Familie,
Vanoggend gaan ons kyk na wat die skrif sê van die oog.
Matt 6: 22 "Die lamp van die liggaam is die oog . As jou oog dan reg is sal jou hele liggaam verlig wees. V 23 Maar as jou oog verkeerd is sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie."
Hierdie deelte gaan nie soseer oor dit wat die oog sien nie maar meer oor die geestelike ingesteldheid van die persoon. As jy met 'n bitter en kritieke oog kyk, word alles gefilter wat goed is en jy sien dit nie raak nie. Hoe meer jy die vyand toelaat om jou geestelike ingesteldheid negatief te beïnvloed hoe donkerder word jou innerlike mens. Daar is 'n skakel tussen jou oog, jou mond, jou hart en jou verstand. Indien die donkerheid by een van hulle inkom word almal met die tyd donker....
Abba se uitkyk is altyd dat Hy die beste vir Sy kinders wil hê. Hulle moet geseënd wees en ander seën. Hulle moet op die uitkyk wees na die goeie en dit vasmaak in mense se lewens. Dit gaan in wese oor die feit dat die goeie oor die slegte moet seëvier. Die Koninkryk van lig moet oor duisternis seëvier.
Selfs in die kerk is die donker oog en die negatiewe uitsprake al hoe meer algemeen. Kom ons draai dit om en begin lewe oor elke situasie spreek.
Sien die potesiaal en die gawes en talente in mense se lewens raak en help hulle om dit uit te bou en te ontwikkel. Selfs al styg hulle bo jou uit. Dis die teken van 'n diensbare hart. Almal het net iemand nodig wat in hulle glo. En dis die mespunt wat maak dat mense vooruit gaan.
Die tweede punt wat belangrik is, is die feit dat mense met 'n positiewe uitkyk en wat heeltyd lewe spreek in die fisiese meer gesond is. 'n Donker uitkyk op die lewe is die deur wat oopgemaak word en die vyand kom en steel gesondheid en voorspoed by ons.
Kom ons bid:
Abba, ek bid dat U vir ons helder oë sal gee en onderskeid in die gees om die lig en die duister te skei. Dat ons monde inlyn sal kom met U wil en dat ons lewe sal bring en spreek waar dit nodig is. Mag U Naam geseënd wees, Amen
Audio Boodskap